Posted on Leave a comment

Voortrekker meisies word aangeval by die Voortrekkermonument in Pretoria

Voortrekker meisies word aangeval by die Voortrekkermonument in Pretoria

“Dis jammer dat kinders weens die misdaadsituasie in ons land nie meer gewone dinge kan doen nie. ’n Mens is oral weerloos, maak nie saak hoe goed jy voorsorg tref nie.”

Dr. Danie Langner, hoofleier van die Voortrekkers, het Sondag só gereageer nadat ’n groep gr. 7-meisies Vrydagaand op ’n Voortrekkerkamp by die Voortrekkermonument in Pretoria aangeval is. Een van die offisiere wat by die meisies was, is van haar handsak en selfoon beroof en moes steke kry nadat die rower haar aangerand het. Die meisies van die Klapperkop-kommando is nie beseer nie, maar erg getraumatiseer.

Arden du Plessis (13) het vertel hoe iemand hulle tydens ’n nagwag omstreeks 23:00 vanuit die bosse met klippe bestook het. “Toe storm hy met ’n doringtak in sy hande uit die bosse. Hy het ons omgestamp.”

Die aanvaller het die een offisier platgeduik en haar begin slaan. “Daar was baie bloed,” sê Arden. Die rower het kort daarna gevlug, en die kinders het voertuie daar naby voorgekeer.

“Ons is geskok en ontsteld,” sê Langner. “Ons én die monument het alles menslik moontlik gedoen om die kinders te beveilig, maar toe verdwaal hulle tydens die nagmars (terwyl hulle items op die terrein moes soek). Hulle was omtrent ’n kilometer weg van die naaste kontrolepunt, buite die veilige gebied.”

Langner sê dis normaalweg baie veilig by die monument se kampterrein en op die nagwagroetes daar naby. “Ons kinders se veiligheid is ons eerste prioriteit. 6 000 van ons voortrekkers het in April daar gekampeer en niks het gebeur nie. Hier was nog nooit voorvalle op of naby die kampeergebied nie, maar wel op die fietsroetes (verder weg).

“Ons het ook bykomende sekuriteit vir Vrydagaand se groep gereël. Offisiere en voertuie het tussen die verskillende kontrolepunte van die roetes gepatrolleer. Offisiere by die kinders was deurentyd in selfoonverbinding met mekaar. Toe hulle agterkom die een groep het verdwaal, het hulle dadelik na hulle begin soek. Voertuie is ook uitgestuur. Hulle was binne minute ná die aanval op die toneel.”

Die polisie het nie op ’n versoek om kommentaar gereageer nie.

Langer sê hulle sal beslis aanhou kampeer by die monument, maar koppe bymekaarsit met die monumentbestuur om voorvalle soos Vrydagaand s’n te voorkom. “Dis ’n wonderlike kultuurterrein.”

Cecilia Kruger, besturende direkteur van die monument, sê hulle bestee maandeliks R120 000 aan beveiliging. “Dis ons grootste uitgawe. Dis onmoontlik om die hele terrein van sowat 250 ha te beveilig. In die toekoms sal ons sorg dat ’n wag kinders altyd op die nagwagroetes vergesel.”

Kruger sê daar is snags wagte met honde by die piekniek- en kampeerterrein, ingangshek, monumentkantore en fort. “Hulle kan enige tyd ’n voertuig met gewapende wagte ontbied. Bedags patrolleer ’n wag op ’n perd ook ons 10 km-lange heining.”

Kruger sê hulle is voortdurend in gesprek met die Tswhane-munisipaliteit om die heining, wat deels aan ’n plakkerskamp grens, beter te beveilig. “Dit sal egter miljoene kos om dit oral met palissade te vervang.”

Die polisie het nie op ’n versoek om kommentaar gereageer nie.

Die monument het Saterdagoggend laat wéér onder ’n rooftog deurgeloop. Volgens Kruger het vier mense wat met pistole en rewolwers gewapen was, wagte by die ingangshek aangehou, die kassiere van ’n bedrag kontant beroof en haar gedwing om die kluis oop te sluit. Hulle het daarna in ’n Volkswagen Golf weggejaag en is nog op vrye voet.

Deur: Netwerk 24


Posted on Leave a comment

Voortrekkers gevra om te loop tydens raadsvergadering in Pretoria

Voortrekkers gevra om te loop tydens raadsvergadering in Pretoria

“Mag Afrikanerjeug dan nie deelneem aan demokrasie nie,” vra dr. Danie Langner, leier van die Voortrekkers, nadat ’n groep Voortrekkers gevra is om ’n raadsvergadering in Pretoria te verlaat.

“Ons het onskuldig met goeie bedoelings na die raadsvergadering gegaan . . . Hoekom mag hulle nie blootstelling kry nie? Ons wil ons jeug juis aan demokratiese prosesse blootstel sodat hulle kan sien hoe ’n demokrasie, ’n stadsraad en ’n parlement werk,” sê Langner.

Volgens hom is dit “baie jammer” dat die groep van 14 Voortrekkers wat almal in gr. 10 is, Donderdag gevra is om ’n Tshwane-metroraadsvergadering te verlaat.

“Ons is regtig teleurgesteld in die politieke partye in dié raad se reaksie. Wat is die boodskap wat hulle wou oordra? Dis ’n afbreek van sosiale kohesie en dui eintlik ook op ’n disfunksionele stadsraad.”

Die Voortrekkers het die speaker, Katlego Mathebe, vooraf skriftelik toestemming gevra om die vergadering te mag bywoon.

Mathebe het die versoek toegestaan, maar opposisiepartye in dié raad was baie ontevrede oor haar besluit.

Ons leer hulle om kultureel verdraagsaam te wees. Daar is wit, Indiërs en swart mense in dié land. Almal se kulture moet waardeer en gerespekteer word.

Mauritz Meiring

Benjamin Disoloane, leier van die EFF in die hoofstad, het dadelik kapsie teen die groep se teenwoordigheid gemaak.

“Ons het duidelike transformasie nodig. Dié kinders verteenwoordig dit nie.”

Nadat die een ná die ander raadslid van die EFF en ANC ook hul ontevredenheid oor die Voortrekkers uitgespreek het, het Solly Msimanga, uitvoerende burgemeester, die raadslede en speaker gevra dat die “onskuldige kinders” nie aan die bakleiery in die raad blootgestel moet word nie.

Die ander partye in die raad het uiteindelik hul sin gekry en die Voortrekker-groep is gevra om die vergadering eers tydelik te verlaat en later heeltemal.

Langner sê die Voortrekkers raak nie by partypolitieke kwessies betrokke nie.

“Politiek het tog ’n invloed op kulturele organisasies. Een van die Voortrekkers se waardes is positiewe leierskap.”

Volgens hom is hy deur verskeie politieke partye, waaronder ook Nathi Mthethwa, minister van kuns en kultuur, gevra: “Waar is die Afrikaner-kinders. Ons sien hulle nêrens nie”.

Mauritz Meiring, wat dié betrokke groep Voortrekkers as spanoffisier na die vergadering vergesel het, sê die einste groep het om dié rede ook ’n ruk gelede die konstitusionele hof besoek.

“Ons leer hulle om kultureel verdraagsaam te wees. Daar is wit, Indiërs en swart mense in dié land. Almal se kulture moet waardeer en gerespekteer word. Voortrekkers word geleer wat goeie burgerreg is. Wat gebeur het, is kulturele onverdraagsaamheid. Daar sit ’n klomp oningeligte raadslede in dié stadsraad.”

Langner sê al was die voorval hoe betreurenswaardig, gaan dit die kinders dalk bedag maak op wat hulle eendag op universiteitskampusse kan teëkom.