Posted on Leave a comment

Motoriste word gewaarsku dat boewe bedrywig is op die N4 – Oos snelweg op die Cullinan/Rayton afrit en die Diamond Hill tol-plaza

Motoriste word gewaarsku dat boewe bedrywig is op die N4 – Oos snelweg op die Cullinan/Rayton afrit en die Diamond Hill tol-plaza

Vyf voertuie se bande is in die vroeë oggendure van 27 Maart voor die tol-plaza beskadig. Dit wil voorkom asof skerp voorwerpe en hindernisse op daardie pad geplaas word om motoriste te dwing om stil te hou sodat hulle beroof kan word.

‘n Vrou wat in ‘n oostelike rigting op die snelweg gery het, berig dat sy oor twee onbekende hindernisse gery het en twee pap wiele gekry het. Sy het besluit om nie stil te hou nie en het deur die tolhek gery en by The Rose vulstasie aangedoen om na die skade te kyk. By die vulstasie het sy vier ander voertuie met beskadigde bande gevind en van daardie motors het al vier bande verloor. Volgens ‘n sekuriteit firma van Bronkhorstspruit was ten minste een ander motoris nie so gelukkig nie Hy het daardie nag van die pad afgetrek om insleep-dienste te skakel nadat sy bande beskadig is en is dadelik beroof.

‘n Polisiewoordvoerder sê dat die polisie bewus is van die probleem en die snelweg gereeld patrolleer. Verlede maand is ‘n Tradevest Logistics vragmotor die nag van 2 Maart op daardie deel van die snelweg gekaap.

Die vragmotor was van Nelspruit op pad na Rustenburg. Net na die Diamond Hill tolplaza en die Cullinan/Rayton afrit van die snelweg is hy van die pad af gedwing deur twee bakkies, een wat voor hom en een wat agter hom gery het. Twee van die vier mans in die bakkies het in die vragmotor se kajuit gespring en ‘n vuurwapen teen die bestuurder se kop gedruk.

Lesers en motoriste word aangemoedig om sulke voorvalle op hierdie deel van die snelweg te rapporteer aan die Cullinan se Polisiestasie by telefoon 012-7340751.

Deur: Die Vryburger
Hierdie berig weerspieël nie noodwendig die mening van Pretoria.ws nie.