Posted on Leave a comment

Pa van twee veg vir sy lewe na 6 skote hom tref tydens huisinbraak

Pa van twee veg vir sy lewe na 6 skote hom tref tydens huisinbraak

Jan Schoeman ’n pa van twee, veg vir sy lewe in die intensiewe-sorgeenheid van Netcare Montana hospitaal na rowers hom ses keer geskiet het tydens ’n huisbraak in Pretoria-Noord.  Twee verdagtes het van die skiettoeneel gevlug,  met slegs die gesin se TV en ’n skoolsak in hul besit.  Die aanval vorm deel van die terreur wat tans daagliks teen inwoners, feitlik almal blank, in die land gevoer word.

Wat veronderstel was om ’n normale weeksdag vir die Schoeman-gesin moes wees, het ontaard in ’n nagmerrie toe rowers vroegoggend by hul woning ingebreek het.  Schoeman se vrou vertel dat sy besig was in die  kombuis,  toe sy ’n slag hoor van ’n venster wat breek.  Schoeman het ondersoek kom instel en hom vasgeloop in die rowers waartydens ’n struweling ontstaan en skote afgevuur is.  Sy vertel haar man is per ambulans hospitaal toe geneem, waar hy onder sedasie geplaas is, sy toestand is kritiek.  Polisiewoordvoerder Kaptein Matthews Nkoadi het bevestig dat ’n saak van poging tot moord ondersoek word en dat die verdagtes gevlug het met ’n televisiestel asook verskeie ander items.

Die jongste voorval het net nog ‘n statistiek geword in ‘n land waar misdaad ‘n ernstige krisis geword het, die nuutste syfers van AfriForum toon aan dat 53 mense daagliks vermoor word regoor SA, terwyl  plaasmoorde en -aanvalle  kommerwekkend is; Mei alleen was daar 46 aanvalle en 7 moorde op plase en in Junie is alreeds 5 aanvalle en ‘n moord, aangeteken.

Elizaan De Koker


 

Posted on Leave a comment

Bekende skrywer, Tom Gouws op kleinhoewe buite Pretoria vermoor

Bekende skrywer, Tom Gouws op kleinhoewe buite Pretoria vermoor

Die bekende skrywer en letterkundige Tom Gouws is tydens ’n rooftog op sy kleinhoewe buite Pretoria vermoor deur aanvallers.

Die nuus is bevestig deur sy suster Judy Leclerc.

Volgens inligting ontvang van Judy het Tom en sy vrou onlangs ’n kleinhoewe buite Lynwood buite Pretoria gekoop waar hul ’n huis gebou het.

Tom is na bewering deur rowers by die huis ingewag waar hy koelbloedig vermoor is. Sy vrou is ook tydens die aanval beseer, maar haar toestand is nie bekend gemaak nie.

Daniël Gouws, Tom se seun het ook die voorval bevestig, maar was te hartseer om meer inligting te gee.

Medelye het vroeg Donderdagoggend op Facebook ingestroom nadat die nuus soos ’n veldbrand versprei het.

Fred en Mercia Eloff sê: “Tom ou maat, nou is jy waar Vader is. Vertroosting toegebid vir die familie.”

“Sjoe Tom … nou is jy elke dag saam met my …. WOLK van Getuie en moedig my aan. My meegevoel aan familie wat hier deur werk”, lui ’n inskrywing van Christa Stander.

Tom was veral bekend as digter, maar het ook verskeie dramas en radiodramas geskryf.

Hy was die vierde wenner van die jaarlikse Nagtegaalprys vir nuut geskrewe verhoogtekste vir die drama Nag van die langmesse.


Posted on Leave a comment

Voortrekker meisies word aangeval by die Voortrekkermonument in Pretoria

Voortrekker meisies word aangeval by die Voortrekkermonument in Pretoria

“Dis jammer dat kinders weens die misdaadsituasie in ons land nie meer gewone dinge kan doen nie. ’n Mens is oral weerloos, maak nie saak hoe goed jy voorsorg tref nie.”

Dr. Danie Langner, hoofleier van die Voortrekkers, het Sondag só gereageer nadat ’n groep gr. 7-meisies Vrydagaand op ’n Voortrekkerkamp by die Voortrekkermonument in Pretoria aangeval is. Een van die offisiere wat by die meisies was, is van haar handsak en selfoon beroof en moes steke kry nadat die rower haar aangerand het. Die meisies van die Klapperkop-kommando is nie beseer nie, maar erg getraumatiseer.

Arden du Plessis (13) het vertel hoe iemand hulle tydens ’n nagwag omstreeks 23:00 vanuit die bosse met klippe bestook het. “Toe storm hy met ’n doringtak in sy hande uit die bosse. Hy het ons omgestamp.”

Die aanvaller het die een offisier platgeduik en haar begin slaan. “Daar was baie bloed,” sê Arden. Die rower het kort daarna gevlug, en die kinders het voertuie daar naby voorgekeer.

“Ons is geskok en ontsteld,” sê Langner. “Ons én die monument het alles menslik moontlik gedoen om die kinders te beveilig, maar toe verdwaal hulle tydens die nagmars (terwyl hulle items op die terrein moes soek). Hulle was omtrent ’n kilometer weg van die naaste kontrolepunt, buite die veilige gebied.”

Langner sê dis normaalweg baie veilig by die monument se kampterrein en op die nagwagroetes daar naby. “Ons kinders se veiligheid is ons eerste prioriteit. 6 000 van ons voortrekkers het in April daar gekampeer en niks het gebeur nie. Hier was nog nooit voorvalle op of naby die kampeergebied nie, maar wel op die fietsroetes (verder weg).

“Ons het ook bykomende sekuriteit vir Vrydagaand se groep gereël. Offisiere en voertuie het tussen die verskillende kontrolepunte van die roetes gepatrolleer. Offisiere by die kinders was deurentyd in selfoonverbinding met mekaar. Toe hulle agterkom die een groep het verdwaal, het hulle dadelik na hulle begin soek. Voertuie is ook uitgestuur. Hulle was binne minute ná die aanval op die toneel.”

Die polisie het nie op ’n versoek om kommentaar gereageer nie.

Langer sê hulle sal beslis aanhou kampeer by die monument, maar koppe bymekaarsit met die monumentbestuur om voorvalle soos Vrydagaand s’n te voorkom. “Dis ’n wonderlike kultuurterrein.”

Cecilia Kruger, besturende direkteur van die monument, sê hulle bestee maandeliks R120 000 aan beveiliging. “Dis ons grootste uitgawe. Dis onmoontlik om die hele terrein van sowat 250 ha te beveilig. In die toekoms sal ons sorg dat ’n wag kinders altyd op die nagwagroetes vergesel.”

Kruger sê daar is snags wagte met honde by die piekniek- en kampeerterrein, ingangshek, monumentkantore en fort. “Hulle kan enige tyd ’n voertuig met gewapende wagte ontbied. Bedags patrolleer ’n wag op ’n perd ook ons 10 km-lange heining.”

Kruger sê hulle is voortdurend in gesprek met die Tswhane-munisipaliteit om die heining, wat deels aan ’n plakkerskamp grens, beter te beveilig. “Dit sal egter miljoene kos om dit oral met palissade te vervang.”

Die polisie het nie op ’n versoek om kommentaar gereageer nie.

Die monument het Saterdagoggend laat wéér onder ’n rooftog deurgeloop. Volgens Kruger het vier mense wat met pistole en rewolwers gewapen was, wagte by die ingangshek aangehou, die kassiere van ’n bedrag kontant beroof en haar gedwing om die kluis oop te sluit. Hulle het daarna in ’n Volkswagen Golf weggejaag en is nog op vrye voet.

Deur: Netwerk 24


Posted on Leave a comment

Huiseienaar word gedreig nadat hy 2 rowers afmaai by sy woning

Huiseienaar word gedreig nadat hy 2 rowers afmaai by sy woning

Jy is ’n moordenaar! Ons gaan jou doodmaak, jou moordenaar! -Dít was die woorde van ’n groep mense wat Maandagoggend voor ’n huis in Lynnwoodrif, Pretoria, bymekaargekom het nadat die huiseienaar Saterdag twee rowers by dié huis doodgeskiet het.

Die huiseienaar het intussen Maandag ’n klag van intimidasie by die Garsfontein-polisiekantoor ingedien.

Luidens sy verklaring aan die polisie het sy tuinwerker hom omstreeks 10:00 geroep en gesê daar is “baie mense voor die hek wat lawaai” en dat hy moet gaan ondersoek instel.

Buite sy hek het hy tien mense gesien, onder wie vier vroue.

Intussen het ’n veiligheidsbeampte van Interactive Security op die toneel opgedaag.

Die mense het op die huiseienaar geskree en hom ’n moordenaar genoem.

Een vrou het geskree: “Jy is ’n moordenaar! Nou het ons jou adres. Ons sal jou doodmaak, jou moordenaar,” lui die polisieverklaring.

Hy het die veiligheidsbeampte gevra om die polisie te ontbied, waarna die groep mense in hul voertuie gespring en weggery het.

“Ek vrees vir my lewe en vir die veiligheid van my gesin, want die vreemdelinge het gedreig om my dood te maak en gesê hulle weet waar ek woon,” sê hy in die verklaring.

“Ek het niemand rede gegee om my te dreig of my gesin dood te maak nie.”

Dié dreigemente kom nadat die huiseienaar Saterdagmiddag twee rowers doodgeskiet het wat hom en sy gesin in die oprit van hul huis oorval het.

Toe die man en sy gesin tuiskom, was die motorhek oop en daar was ’n onbekende voertuig in die oprit, het kapt. Dave Miller, polisiewoordvoerder, vroeër gesê.

Die man het uit sy voertuig geklim om ondersoek in te stel toe een van die verdagtes in sy voertuig klim.

“Die verdagte het met die voertuig in trurat probeer wegry terwyl die man se gesinslede nog daarin was. Gelukkig het die verdagte teen die oprit se muur vasgery en kon die voertuig dus nie verder ry nie,” sê Miller.

In ’n poging om te vlug het die ander verdagte, wat agter die stuur van hul voertuig was, aanhoudend teen die huiseienaar se voertuig vasgery.

Die man het daarin geslaag om sy gesinslede uit hul voertuig te bevry.

“In die proses het die man die twee verdagtes geskiet,” sê Miller.

Verskeie huishoudelike items wat uit die slagoffers se huis gesteel is, is in die verdagtes se voertuig gevind.

Die polisie stel ondersoek in om vas te stel of die verdagtes se voertuig gesteel is en of hulle met ander misdade verbind kan word, sê Miller.

Die polisie ondersoek tans geen klag teen die huiseienaar nie.

* Netwerk24 het die polisieverklaring ontvang op voorwaarde dat die man en sy gesin se name weerhou word.

Deur: Netwerk 24


Posted on Leave a comment

Boerenooiens staan dapper hul man deur aanvallers op ’n afstand te hou

Boerenooiens staan dapper hul man deur aanvallers op ’n afstand te hou

Hannelie Jacobs (59), haar dogter Suretha (29) en haar 81-jarige ma, Grietjie van Vuuren, het dapper hul man gestaan en daarin geslaag om die aanvallers op ‘n afstand te hou tot hulp opgedaag het.

Die drie vroue en vier kinders, waaronder ‘n ses-dae-oue baba, was alleen op die plaas in Krokodildrift-Wes toe drie aanvallers kort na 22:00 die vensters van die huis met klippe uitgegooi en die deure en veiligheidsdeure afgebreek het.

“Ek was in die kamer saam met een van die kinders toe die venster agter my in skerwe spat. Ek het gesê hy moet na sy ma toe hardloop. Daar was drie mans en die volgende oomblik het vensters oral in die huis gebreek en hulle het groot klippe na ons gegooi,” het Hannelie aan Kormorant vertel.

“Die rowers het die deur en veiligheidsdeur met ‘n pik oopgekap en in die huis ingekom. Hulle het die pik na Suretha en my ma gegooi. My dogter het gesê ek moet die kinders in die badkamer gaan toesluit. Ek het die kinders gegryp en gehardloop. Suretha het die pik in die hande gekry en die rowers daarmee gestorm. Hulle is uit die huis, maar het weer ingekom. My ma het hulle met pepergas gespuit en Suretha het hulle steeds met die pik gedreig.”

Hannelie het intussen die paniekknoppie gedruk en die vroue kon die rowers afweer tot Monitor Net sekuriteit op die toneel opgedaag het. “Hulp was binne vyf minute daar, maar dit het soos ure gevoel.”
Die verdagtes is deur die sekuriteitsbeamte verras en skote is afgevuur. Hulle het op vlug geslaan. Volgens Hannelie was een van die aanvallers in wit geklee en twee het blou oorpakke met glimstroke aangehad. Lede van die Brits gemeenskapspolisiëringsforum Sektor 1 was kort hierna op die toneel.

Niemand is tydens die aanval beseer nie.

“As dit nie vir Suretha was nie, was ons almal moontlik dood. Sy het ses dae gelede ‘n baba gehad, maar het vir ons almal baklei.”

Dit is nie die eerste keer dat dié dapper vrou haar ouers in ‘n plaasaanval beskerm nie. Die gesin is ‘n paar jaar gelede ook op die plaas aangeval. “Dié nag het ons nie die rowers hoor inkom nie en hulle het my pa in sy bed gekonfronteer. Suretha het hulle met ‘n mes verjaag.”

Die Brits polisie ondersoek die saak en niemand is nog in hegtenis geneem nie.

(Erkenning aan: Kormorant)