Posted on Leave a comment

Passasiers val treindrywers met klippe aan by Koedoespoort-treinstasie in Pretoria

Passasiers val treindrywers met klippe aan by Koedoespoort-treinstasie in Pretoria

Ontstoke passasiers by die Koedoespoort-treinstasie in Pretoria het twee treindrywers van die United National Transport Union (Untu) aangeval en die bestuurskajuite met klippe bestook.

Dit volg nadat Metrorail-treine Woensdagoggend vertraag was.

Luidens ’n verklaring deur Untu, het albei “ervare” treindrywers gevrees vir hul lewe en die lewe van die twee studente wat saam met hulle in die kajuit was.

“Die passasiers het groot klippe voor die trein gepak en die trein met klippe gegooi. Die glas en klippe het op ons neergestort,” sê Kgaripane Mogashoa (42) in die verklaring.

Sy het die treinbeheerbeampte gebel en is gemagtig om met die roete voort te gaan.

Mogashoa was op pad van Pienaarspoort na Pretoria, maar moes noodgedwonge by ’n rooi sein stop.

Volgens Mogashoa was die student wat saam met haar was, histeries.

Die trein het veilig by die Pretoria-treinstasie aangekom.

Mogashoa en die student ontvang berading.

Sy was ook die treindrywer wat twee jaar gelede in Centurion deur woedende passasiers aan die brand gesteek is.

Luidens die verklaring was Francois Herselman (53) op pad na Pretoria-Noord toe sy bestuurskajuit ook by die Koedoespoort-stasie met klippe bestook is.

Die venster is stukkend, maar hy is nie beseer nie.

“Passasiers het gedreig om my en die student dood te maak. Dit was aaklig,” het Herselman in die verklaring gesê.

Hy was ook die treindrywer van die trein wat passasiers ’n paar maande gelede by die Koedoespoort-stasie probeer kaap het.

“Passasiers is uiters gewelddadig teenoor treinbemanning die afgelope paar maande,” sê Herselman, ’n oupa van vier kleinkinders.

Steve Harris, hoofsekretaris van Untu, eis dat Prasa drastiese veiligheidsmaatreëls op al die spoorlyne implementeer – dieselfde maatreëls wat op die “berugte sentrale lyn” in Kaapstad geïmplementeer is.

“Ongelukkig het Prasa en die polisiediens toegelaat dat die spoorlyne ’n oorlogsone word. Drastiese, duur maatreëls word landwyd benodig om wet en orde terug te bring vir ons passasiers wat van spoorweë gebruik maak,” sê Harris.

Deur: Netwerk 24


Posted on Leave a comment

Passasiers kaap glo 2 Prasa-treine by Hercules-treinstasie in Pretoria

Passasiers kaap glo 2 Prasa-treine by Hercules-treinstasie in Pretoria

Twee treine van die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) is glo Dinsdagoggend by die Hercules-treinstasie in Pretoria gekaap deur passasiers wat na Saulsville wou reis in plaas daarvan om terug te keer na Koedoespoort.

Luidens ’n verklaring van die vervoervakbond Untu het die passasiers die treinspoor omstreeks 07:00 vol betonblokke gepak waarna hulle die drywers gedwing het om na Saulsville te ry.

Volgens Louwrens Erasmus, wat die pendeltrein tussen Koedoespoort en Hercules beman het, het hy uit sy kajuit geklim om in die teenoorgestelde kajuit te klim toe die passasiers hom voorgekeer het en hom gedwing het om aan te hou ry.

“Ek het besef ek moet saamwerk of ek en my Metro-wag gaan seerkry. Toe ek uit die kajuit klim om in die ander een in te klim op na Koedoespoort toe het die ontstoke passasiers my teruggedruk en betonblokke op die spoor agter die trein gepak. Ek het vir my lewe gevrees en daar was geen Prasa-veiligheidswagte in sig nie,” het Erasmus, wat al 39 jaar as ’n treindrywer werk, aan Untu gesê.

Ek is baie getraumatiseer. Ons het geen beskerming nie en ons is oorgelewer aan die passasiers. Ons lewe beteken niks.

Erasmus sê dieselfde het met sy kollega, TG Modjadji, wat die trein langs hom bestuur het, gebeur.

“Hulle het dieselfde met hom gedoen. Hy het probeer om vir hulle te sê dat ons nie kan ry waar ons wil nie, maar hulle het nie nee vir ’n antwoord gevat nie.”

Erasmus sê hy het die beheerkamer ingelig dat die trein gekaap is en dat die passasiers dreig om dit af te brand. Hy moes eers die passasiers by Saulsville aflaai voordat hy kon terugkeer na Hercules waar hy kon voortgaan met sy werk.

“Ek is baie getraumatiseer. Ons het geen beskerming nie en ons is oorgelewer aan die passasiers. Ons lewe beteken niks.”

Steve Harris, Untu-sekretaris, het ná die voorval gesê dat Cromet Molepo, Prasa se pasaangestelde uitvoerende hoof, ’n dringende vergadering belê het om die situasie waar treine in die Wes-Kaap ontwrig en gevandaliseer word te bespreek.

“Ek sal ook die kaping van die twee treine op die agenda plaas, sodat ons ’n oplossing kan vind en ’n tragedie kan voorkom,” het Harris gesê.

Volgens die verklaring kom die vergadering, wat vir Donderdagoggend beplan is, nadat Untu in die Wes-Kaap ’n dispuut met Prasa geopper het oor die inwerkingstelling van veiligheidsmaatreëls.

Harris beweer Prasa volg nie die mees basiese maatreëls nie. “Genoeg is genoeg. Untu weier om arms gevou terug te sit en te wag dat ons mense doodgaan,” sê Harris.