Posted on Leave a comment

Pretoria middestad in chaos gedompel – winkels is gestroop, geboue aan die brand gesteek en openbare vervoer opgeskort

Taxibestuurders het die strate ingevaar in Pretoria nadat een van hulle “kollegas” klaarblyklik deur ‘n uitlander gedood is.

Verskeie winkels van uitlanders is gestroop en ‘n gebou is aan die brand gesteek. Pendelaars was gestrand nadat openbare vervoer opgeskort is.

Die polisie moes oproeriges uitmekaar jaag wat die brandweervoertuie verhoed het om die toneel te bereik.

Die burgemeester van Pretoria, Stephens Mokgalapa, het die optrede afgekeur en gesê dat vergeldings misdade nie verdra sal word nie.
Verbygangers is met bottels en klippe bestook en veral media verteenwoordigers is met aggressie begroet.

Pretoria se middestad is die afgelope twee dae in chaos gedompel, en mense word aangeraai om die deel van die stad te vermy.


Posted on Leave a comment

Chaos heers in Pretoria se middestad na talle busdrywers staak en paaie versper vir 18% salaris verhoging

Chaos heer in Pretoria se middestad na talle busdrywers staak en paaie versper vir 18% salaris verhoging

Verkeer in die Pretoria se middestad is Maandagoggend tot stilstand geruk na talle busdrywers van die Tshwane-busdiens besluit het om te staak.

Betogende busbestuurders van die Tshwane-munisipale busdienste het busse gebruik om hoofroetes te blokkeer om verkeersvloei te belemmer. Sheila-Lynn Senkubuge, burgemeesterskomiteelid vir paaie en vervoer in Tshwane sê dat Samwu-lede om beter lone betoog, maar ’n stappie te vêr gegaan deur busse sonder toestemming van die stad te neem om die sakekern te blokkeer en honderde motoriste te verontrief en moet nou deur die metro weggesleep word. Sy vra onverskoning vir die ontrief en gaan vêrder deur te sê dat die stad alles in hul vermoë doen om die busse te verwyder sodat verkeersvloei vir die res van die dag kan normaliseer. Senkubuge sê ook dat hul die opsie oorweeg om die busbestuurders wat die busse wederregtelik uit die depot geneem het, van diefstal aan te kla.

Netwerk 24 berig dat Mpho Tladinyane, streeksekretaris van Samwu in die Groter Tshwane-streek, Maandag aan die onderhandelings vir ’n 18%-loonverhoging vir munisipale werkers het op niks uitgeloop nie en die verbreking van die dooiepunt word doelbewus deur die Tshwane-metro vertraag.

Volgens Tladinyane is munisipale busbestuurders ontevrede oor die salarisverhogings wat sommige afdelingshoofde gekry het. “Werknemers op laer vlakke se salarisse is nie verhoog nie. Al wat Samwu eis, is die billike behandeling van dié groep. Die metro gebruik ’n vertragingstaktiek aangesien daar nie op werkers se eise gereageer word nie en voortgegaan is met die herstrukturing van vergoedingspakkette. Dié reaksie van die metro beskou ons as ’n verwerping van ons 18%-eis,” sê Tladinyane.

“Dit is jammer dat ons tot hierdie uiterste moet gaan om die metro se aandag te kry,” sê hy. Hy wou hom egter nie verder uitlaat oor die versperring van paaie as deel van die protesoptrede nie.

Isaac Mahamba, woordvoerder van die Tshwane- metropolisie, het vroeër gesê roetes soos Es’kia Mphahlele-, WF Nokoma-, Thabo Sehume- en Madibastraat word deur die busse versper.


Posted on Leave a comment

Reeksmoordenaar los in Pretoria wat op haweloses teer – Lyk van 5de hawelose man in Pretoria gekry

Reeksmoordenaar los in Pretoria wat op haweloses teer - Lyk van 5de hawelose man in Pretoria gekry

Die polisie het Woensdag die lyk van ‘n vyfde hawelose slagoffer in Pretoria gekry nadat vier hawelose mans reeds die afgelope paar weke vermoor is.

Brig. Mathapelo Peters, polisiewoordvoerder, sê hulle het ‘n taakspan op die been gebring om die moorde te ondersoek nadat die vyfde lyk sowat 400 m van die Unisa-kampus in Muckleneuk gevind is.

“Die polisie kan bevestig dat minstens vyf lyke tot dusver gekry is. Die lyke is oor die bestek van twee tot drie weke gevind, in verskillende dele van Muckleneuk in die Pretoriase middestad.”

Peters sê die ondersoek is steeds aan die gang, maar die polisie kan reeds bevestig dat die vermoordes almal middeljarige, hawelose mans is, wat in die nag vermoor is.

Sy sê lt.genl. Elias Mawela, Gauteng se polisiehoof, het ‘n taakspan op die been gebring om die moorde te prioritiseer sodat hulle kan seker maak die skuldiges word so gou moontlik gevang.

Muckleneuk

‘n Bebloede kombers en blou handskoen lê in die Magnoliadalpark waar die lyke van twee mans vroeër gevind is. Foto: Felix Dlangamandla

Die polisie het ook ‘n beroep op private veiligheidsmaatskappye en lede van die publiek gedoen om te help om die skuldiges vas te trek.

Mawela sê hulle wil nie paniek onder die mense in Muckleneuk saai nie, maar hulle wil hê mense moet versigtig wees en hul oë oophou.

Dinsdagoggend het die Tshwane-metropolisie op die lyk van ’n vierde man op die hoek van Justice Mahomed- en Troyestraat in Sunnyside gekry.

Die lyk van die eerste man is op 25 Mei by die Mearspark-treinstasie in Sunnyside gekry. Nadat die lyke van die tweede en derde slagoffer op 8 en 9 Junie in Magnolia Dell, naby die treinstasie, gekry is, het die vraag ontstaan of ’n reeksmoordenaar in Pretoria hawelose mans vermoor.

Volgens kapt. Daniel Mavimbela, polisiewoordvoerder, volg ondersoekbeamptes alle moontlike leidrade op om die moordenaar(s) vas te trek.

“Ek kan nie in die stadium sê dat dit die werk van ’n reeksmoordenaar is nie, maar die moontlikheid daarvan word wel ondersoek,” sê Mavimbela.

“Dinsdag se slagoffer is tussen 06:00 en 07:00 gevind. Die man het ’n besering aan die agterkant van sy kop gehad en ’n moorddossier is geopen. Die nadoodse ondersoek sal verder lig werp op wat tot die man se dood gelei het.”

Die identiteit van al die slagoffers moet nog deur die polisie vasgestel word.

Wayne Renkin, projekkoördineerder van die Tshwane Leadership Foundation (TLF) wat met hawelose mense in Pretoria werk, sê dat die jongste moorde op hawelose mans onrusbarend is.

“Haweloses in die stad is ongelooflik kwesbaar, veral mans en seuns wat nie soos die vroue toegang tot veilige huisvesting het nie. Nie net is hulle uitgelewer aan die natuur nie, maar ook aan menslike elemente. Ek dink dit is hoog tyd dat die regering ingryp en leë geboue tydelik vir haweloses oopstel.

Mckelneuk-moorde-nuut.jpg

“Solly Msimanga, vorige burgemeester van Tshwane, het belowe om na so ’n moontlikheid te kyk, maar daar het dadels van gekom,” sê Renkin.

Volgens hom is daar ongeveer 6 244 hawelose mense in Pretoria.

“Dit is gegrond op inligting van 2011 se sensus, maar ons dink dit is veel meer.”

Renkin wil hê die regering moet by die situasie ingryp.

“Alles lyk altyd op vergaderings mooi op papier, maar as die bereidwilligheid in die praktyk ontbreek, lei dit uiteindelik tot frustrasie, veral onder organisasies soos die TLF wat daagliks met talle haweloses werk en weet hoe groot die nood is. Hawelose mans in Pretoria word voor die voet deur iemand afgemaai. Die vraag is nou wat ons as ’n gemeenskap daaromtrent gaan doen.”

-Netwerk 24
Hierdie berig weerspieël nie noodwendig die mening van SAUK-nuus nie.

Posted on Leave a comment

EFF-lede betoog voor tehuis vir bejaardes in Pretoria se middestad

EFF-lede betoog voor tehuis vir bejaardes in Pretoria se middestad

’n Inwoner van 80 jaar van ’n tehuis vir bejaardes in Pretoria se middestad moes Woensdag saam met ander inspring om te verseker dat almal van Huis Davidtsz middagete kry, nadat EFF-lede die werkers van die tehuis verhoed het om hul werk te doen.

Hannes van Vuuren (80) sê hy moes inspring om te help.

Cobus Kruger, ’n veiligheidswag by die tehuis, het ook borde kos aangedra en nadat die bejaardes geëet het, weer die tafels in die eetsaal opgeruim.

Net soos Kruger het Leona Gouws, ’n sekretaresse by Huis Davidtsz, ook gehelp met die voorbereiding van die kos en die opruiming. Haar ma, Amanda Steyn, het ook oral waar sy kon, gehelp nadat sy die oggend gehoor het EFF-lede betoog voor die tehuis. Haar ma en Gouws se ouma, Fransie van der Westhuizen, woon al vyf jaar daar. Sy ly aan demensie.

Sy en van die ander inwoners was salig onbewus van die EFF se betoging buite.

Ander het dit wel gehoor, maar nie geweet waaroor dit gaan nie. Sommige inwoners het verward by hul kamervensters uitgeloer.

“Ek weet nie wat aangaan nie, maar dit sal nie help om só aan te gaan nie,” sê Elizabeth Lombard (88).

Lombard kon die geraas deur haar kamervenster hoor, maar sy sukkel om te loop en kon dus nie gaan kyk wat aangaan nie.

Haar buurvrou, Cora du Plessis (70), sê die geraas het haar senuweeagtig gemaak.

Schalk Venter, nog ’n inwoner, sê die betoging buite skeel hom min.

“Ek is nie bang nie. Dit irriteer my net. Dis amper soos ’n breinspoeling,” het hy die dreunsang van die betogers beskryf.

Hoewel daar ’n groot polisieteenwoordigheid was, het die betoging vreedsaam geskied.

Daar was sowat 20 EFF-lede met hul kenmerkende rooi klere aan of barette op die kop, terwyl die werknemers van Huis Davidtsz onder dwang buite gesit het.

“Ons het nou genoeg gehad. Ons soek ons geld,” sê Martha Morake, wat al vir agt jaar as skoonmaker in die tehuis werk.

Morake het ook as die betogende groep se woordvoerder opgetree.

“Niks werk hier nie. Daar is te min personeellede. Ek het nog nooit ’n kontrak geteken nie. Ons is nie by die Werkloosheidsversekeringsfonds geregistreer nie.”

Volgens Morake verdien sy R1 800 per maand.

Ephenia Madira, ’n verpleegster wat al 14 jaar daar werk, sê haar salaris is ’n skamele R2 800.

“Hoe kan ons met dié peanuts lewe? Ons werk behoorlik. Ons wil behoorlik betaal word ook. Daar is saans geen skoonmakers nie. Die verpleegsters moet dan skoonmaak ook.”

Cobus Kruger, ’n veiligheidswag by Huis Davidtsz, het ook ingespring om kos te help uitdeel aan die inwoners.Foto: Deaan Vivier

Leonora Strydom, bestuurder van die tehuis, sê Huis Davidtsz is ’n welsynsorganisasie wat net gedeeltelik deur die staat gesubsidieer word.

“Ons inkomste is dus beperk. Die bejaardes in ons sorg kry net ’n Sassa-pensioen. Ons sukkel om ’n bestaan te maak soos dit is.”

Sr.supt. Isaac Mahamba, woordvoerder van die Tshwane-metropolisie, wat later daar opgedaag het, sê metropolisielede is kort nadat hulle by die tehuis aangekom het, onttrek.

“Daar was geen geweld nie. Ons het dié lede toe onttrek.”

Volgens hom het van die werknemers uiteindelik ná onderhandelings met prokureurs en EFF-lede in beginsel ingestem om weer te werk, mits hulle nuwe kontrakte sal ontvang.

Deur: Netwerk 24