
Die lisensiekantore in Centurion is Woensdag gesluit ná ʼn rooftog Dinsdagaand.
Daar is verskeie rekenaars en kameras tydens die aanval gebuit.
Die Tshwane-metropolisie het in ʼn verklaring gesê die kantore is gesluit om die SAPDmtoe te laat om hul ondersoek ongehinderd uit te voer.
Volgens die metropolisie en die munisipaliteit sal die kantore Donderdag weer oopwees, maar sal daar slegs beperkte dienste aangebied word.
’n Voorlopige ondersoek dui daarop dat rekenaars, eNaTIS-skerms en ander rekenaartoerusting gesteel is.
Sr.supt. Isaac Mahamba, woordvoerder van die Tshwane-metropolisie, het gesê die dienste wat Donderdag beskikbaar sal wees, sluit leerlinglisensies, praktiese toeste vir bestuurslisensies en die afhaal van nuwe lisensiekaarte in.
“Daar sal tot verdere kennisgewing geen lisensiehernuwingsversoeke verwerk word nie. Mense kan in die tussentyd Akasia en
Bronkhorstspruit se lisensiekantore besoek vir dié diens,” het Mahamba gesê.