Posted on Leave a comment

Plaasaanval: Terroriste skiet man voor sy dogter, verloofde

Plaasaanval: Terroriste skiet man voor sy dogter, verloofde

‘n Man is Woensdag in die vroeë oggendure ten aanskoue van sy sesjarige dogter en sy verloofde geskiet toe inbrekers toegang tot hul huis op ’n plaas in Leeuwfontein naby Roodeplaat in Pretoria wou verkry.

Jonty Jacobs (28) is verskeie kere raakgeskiet toe hy op die aanvallers geskree het.

Hy is in ’n kritieke toestand na die Steve Biko- akademiese hospitaal geneem.

“Hy het tussen 02:00 en 03:00 wakker geword toe iemand die houtraam van die venster probeer oopbreek het,” sê Ian Cameron, die burgerregte-organisasie AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid.

“Hy is meer as een keer getref, vermoedelik ook in die ruggraat.

“Hulle het ’n week of twee gelede verloof geraak,” sê hy.

Sers. Portia Maleka, polisiewoordvoerder, sê die polisie het Woensdag omstreeks 03:00 gereageer op die voorval.

Sy sê ’n aantal aanvallers het toegang tot die huis verkry deur ’n venster voor in die huis.

“Toe hulle binne die huis was, het hulle vir Jacobs binne die huis gevind. Hy is in die bolyf geskiet.”

Maleka sê die rowers het twee selfone en Jacobs se verloofde se handsak gesteel. Hulle het te voet gevlug.

“Niemand is tot dusver in hegtenis geneem nie. Die polisie ondersoek ’n klag van huisroof en poging tot moord.”

Sy doen ’n beroep op enigeen met inligting wat kan lei tot die inhegtenisname van die rowers om die Kameeldrift-polisiekantoor te bel by 012 819 8200.

Deur: Netwerk 24


Posted on Leave a comment

Huiseienaar word gedreig nadat hy 2 rowers afmaai by sy woning

Huiseienaar word gedreig nadat hy 2 rowers afmaai by sy woning

Jy is ’n moordenaar! Ons gaan jou doodmaak, jou moordenaar! -Dít was die woorde van ’n groep mense wat Maandagoggend voor ’n huis in Lynnwoodrif, Pretoria, bymekaargekom het nadat die huiseienaar Saterdag twee rowers by dié huis doodgeskiet het.

Die huiseienaar het intussen Maandag ’n klag van intimidasie by die Garsfontein-polisiekantoor ingedien.

Luidens sy verklaring aan die polisie het sy tuinwerker hom omstreeks 10:00 geroep en gesê daar is “baie mense voor die hek wat lawaai” en dat hy moet gaan ondersoek instel.

Buite sy hek het hy tien mense gesien, onder wie vier vroue.

Intussen het ’n veiligheidsbeampte van Interactive Security op die toneel opgedaag.

Die mense het op die huiseienaar geskree en hom ’n moordenaar genoem.

Een vrou het geskree: “Jy is ’n moordenaar! Nou het ons jou adres. Ons sal jou doodmaak, jou moordenaar,” lui die polisieverklaring.

Hy het die veiligheidsbeampte gevra om die polisie te ontbied, waarna die groep mense in hul voertuie gespring en weggery het.

“Ek vrees vir my lewe en vir die veiligheid van my gesin, want die vreemdelinge het gedreig om my dood te maak en gesê hulle weet waar ek woon,” sê hy in die verklaring.

“Ek het niemand rede gegee om my te dreig of my gesin dood te maak nie.”

Dié dreigemente kom nadat die huiseienaar Saterdagmiddag twee rowers doodgeskiet het wat hom en sy gesin in die oprit van hul huis oorval het.

Toe die man en sy gesin tuiskom, was die motorhek oop en daar was ’n onbekende voertuig in die oprit, het kapt. Dave Miller, polisiewoordvoerder, vroeër gesê.

Die man het uit sy voertuig geklim om ondersoek in te stel toe een van die verdagtes in sy voertuig klim.

“Die verdagte het met die voertuig in trurat probeer wegry terwyl die man se gesinslede nog daarin was. Gelukkig het die verdagte teen die oprit se muur vasgery en kon die voertuig dus nie verder ry nie,” sê Miller.

In ’n poging om te vlug het die ander verdagte, wat agter die stuur van hul voertuig was, aanhoudend teen die huiseienaar se voertuig vasgery.

Die man het daarin geslaag om sy gesinslede uit hul voertuig te bevry.

“In die proses het die man die twee verdagtes geskiet,” sê Miller.

Verskeie huishoudelike items wat uit die slagoffers se huis gesteel is, is in die verdagtes se voertuig gevind.

Die polisie stel ondersoek in om vas te stel of die verdagtes se voertuig gesteel is en of hulle met ander misdade verbind kan word, sê Miller.

Die polisie ondersoek tans geen klag teen die huiseienaar nie.

* Netwerk24 het die polisieverklaring ontvang op voorwaarde dat die man en sy gesin se name weerhou word.

Deur: Netwerk 24