Posted on Leave a comment

Bejaardes lê ure vasgebind na plaasaanvallers inreek by hul plaashuis naby Pretoria

Bejaardes lê ure vasgebind na plaasaanvallers inreek by hul plaashuis

’n Egpaar van in hul 80’s moes heelaand vasgebind lê terwyl rowers hul plaashuis geplunder het.

James (84) en Lenie Leask (87) van Boekenhoutskloofdrift, tussen Pretoria en Cullinan, kon eers Maandagoggend om 07:00 hulp ontbied toe hul werkers ingekom het.

André van Heerden van die Cullinan-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) sê die egpaar is nie seker presies wanneer die aanvallers Sondagaand die huis ingekom het nie, maar hulle het wakker geword toe ’n flitslig in hul oë geskyn word.

Dit is onbekend of die rowers gewapen was, maar daar was vermoedelik drie van hulle.

Hulle het die diefwering voor een van die vensters afgeknip, waarna hulle die slapende Leasks in hul slaapkamer verras het.

“Die slagoffers is met elektriese koorde vasgebind en die kamerdeur is van buite af gesluit. Daarna het die rowers deur die hele huis, byna elke laai en kas, gegrawe.

“Hulle het van die drank in die huis gedrink en elektroniese toerusting, soos selfone, ’n televisie en skootrekenaars in die Leask-egpaar se silwer BMW en Ford Courier-bakkie gelaai,” sê Van Heerden.

Die aanvallers is eers net voor ligdag met die voertuie en buit daar weg.

Toe dit stil word in die huis, het Lenie haarself losgewikkel gekry, maar omdat hulle in die kamer toegesluit was en hul fone geroof is, kon die egpaar eers hulp ontbied toe die werkers hulle aanmeld.

“James se gewrigte was effens geswel van die vasbind en Lenie het merke van toe sy vermoedelik tydens die loswoel van die bed afgeval het, maar verder is hulle nie beseer nie,” sê Van Heerden.

Daarna het die rowers deur die hele huis, byna elke laai en kas, gegrawe.

Die polisie op Cullinan en die egpaar se kinders is dadelik ontbied.

Die GPF het ook gereël vir berading vir die egpaar en Lenie is later Maandag hospitaal toe geneem om seker te maak sy is ongedeerd, terwyl die polisie se forensiese kundiges en honde-eenheid die toneel gefynkam het.

Die geroofde bakkie is later verlate in Rietgat, Soshanguve, noord van Pretoria, gevind maar die BMW is steeds soek.

Netwerk 24
Hierdie verslag weerspieël nie noodwendig die mening van SAUK nuus nie


Posted on Leave a comment

Bekende skrywer, Tom Gouws op kleinhoewe buite Pretoria vermoor

Bekende skrywer, Tom Gouws op kleinhoewe buite Pretoria vermoor

Die bekende skrywer en letterkundige Tom Gouws is tydens ’n rooftog op sy kleinhoewe buite Pretoria vermoor deur aanvallers.

Die nuus is bevestig deur sy suster Judy Leclerc.

Volgens inligting ontvang van Judy het Tom en sy vrou onlangs ’n kleinhoewe buite Lynwood buite Pretoria gekoop waar hul ’n huis gebou het.

Tom is na bewering deur rowers by die huis ingewag waar hy koelbloedig vermoor is. Sy vrou is ook tydens die aanval beseer, maar haar toestand is nie bekend gemaak nie.

Daniël Gouws, Tom se seun het ook die voorval bevestig, maar was te hartseer om meer inligting te gee.

Medelye het vroeg Donderdagoggend op Facebook ingestroom nadat die nuus soos ’n veldbrand versprei het.

Fred en Mercia Eloff sê: “Tom ou maat, nou is jy waar Vader is. Vertroosting toegebid vir die familie.”

“Sjoe Tom … nou is jy elke dag saam met my …. WOLK van Getuie en moedig my aan. My meegevoel aan familie wat hier deur werk”, lui ’n inskrywing van Christa Stander.

Tom was veral bekend as digter, maar het ook verskeie dramas en radiodramas geskryf.

Hy was die vierde wenner van die jaarlikse Nagtegaalprys vir nuut geskrewe verhoogtekste vir die drama Nag van die langmesse.


Posted on Leave a comment

Plaasaanval: Terroriste skiet man voor sy dogter, verloofde

Plaasaanval: Terroriste skiet man voor sy dogter, verloofde

‘n Man is Woensdag in die vroeë oggendure ten aanskoue van sy sesjarige dogter en sy verloofde geskiet toe inbrekers toegang tot hul huis op ’n plaas in Leeuwfontein naby Roodeplaat in Pretoria wou verkry.

Jonty Jacobs (28) is verskeie kere raakgeskiet toe hy op die aanvallers geskree het.

Hy is in ’n kritieke toestand na die Steve Biko- akademiese hospitaal geneem.

“Hy het tussen 02:00 en 03:00 wakker geword toe iemand die houtraam van die venster probeer oopbreek het,” sê Ian Cameron, die burgerregte-organisasie AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid.

“Hy is meer as een keer getref, vermoedelik ook in die ruggraat.

“Hulle het ’n week of twee gelede verloof geraak,” sê hy.

Sers. Portia Maleka, polisiewoordvoerder, sê die polisie het Woensdag omstreeks 03:00 gereageer op die voorval.

Sy sê ’n aantal aanvallers het toegang tot die huis verkry deur ’n venster voor in die huis.

“Toe hulle binne die huis was, het hulle vir Jacobs binne die huis gevind. Hy is in die bolyf geskiet.”

Maleka sê die rowers het twee selfone en Jacobs se verloofde se handsak gesteel. Hulle het te voet gevlug.

“Niemand is tot dusver in hegtenis geneem nie. Die polisie ondersoek ’n klag van huisroof en poging tot moord.”

Sy doen ’n beroep op enigeen met inligting wat kan lei tot die inhegtenisname van die rowers om die Kameeldrift-polisiekantoor te bel by 012 819 8200.

Deur: Netwerk 24


Posted on Leave a comment

Jong vrou by Voortrekkermonument verkrag

Jong vrou by Voortrekkermonument verkrag

’n Negentienjarige vrou is verkrag by die Voortrekkermonument in Pretoria

Woordvoerder van die polisie Kapt. Augustinah Selepe, het die voorval bevestig en gesê dat die insident Saterdagoggend omstreeks 08:00 plaasgevind.

Bert Visser, operasionele bestuurder van die Voortrekkermonument, het gesê dat die vrou se ma-hulle het ʼn stalletjie gehad by die antiek-en-versamelaarsmark wat Saterdag by die monument aangebied is.

“Haar ma het haar gevra om na haar sussie te gaan soek en sy het na die Assegaai-badkamers se kant toe geloop. Hulle is besig om herstelwerk aan daardie badkamers te doen en dit is afgesper. Die aanvaller het haar toe glo daar genader en in die maag geslaan en opdrag gegee om saam met hom na die Skool op Wiele se badkamers te gaan,” vertel Visser gesê.

Die slagoffer het bekend gemaak dat die man ’n swart klapmus, swart handskoene en swart klere aangehad het. Na bewering het hy haar in die eerste hokkie van die badkamers verkrag en na die tyd opdrag gegee om “haarself te was”.

Die aanvaller het toe te voet van die toneel gevlug.

Die erg getraumatiseerde jong vrou het na haar ouers gegaan en hulle van die voorval vertel.

“Ons mediese span het hulle uitstekend van hul taak gekwyt, het Visser gesê. “Die ambulans en polisie is vandaar gekontak.”

Selepe het bevestig ʼn saak van verkragting word ondersoek.

Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

Cecilia Kruger, uitvoerende hoof van die monument, het gesê die bestuur het met skok en afgryse van die voorval kennis geneem. Visser het dit beaam en gesê dit is vir hulle ongelooflik sleg. “Dit is die eerste keer dat so iets hier gebeur sover my kennis strek. Die terrein is só groot, dit is onmoontlik om elke hoekie te beman. Daar is wel sekuriteit beskikbaar tussen 09:00 en 17:00.”

Die bestuur van die Voortrekkermonument het ook vir die jong vrou berading aangebied.


Posted on Leave a comment

Voortrekker meisies word aangeval by die Voortrekkermonument in Pretoria

Voortrekker meisies word aangeval by die Voortrekkermonument in Pretoria

“Dis jammer dat kinders weens die misdaadsituasie in ons land nie meer gewone dinge kan doen nie. ’n Mens is oral weerloos, maak nie saak hoe goed jy voorsorg tref nie.”

Dr. Danie Langner, hoofleier van die Voortrekkers, het Sondag só gereageer nadat ’n groep gr. 7-meisies Vrydagaand op ’n Voortrekkerkamp by die Voortrekkermonument in Pretoria aangeval is. Een van die offisiere wat by die meisies was, is van haar handsak en selfoon beroof en moes steke kry nadat die rower haar aangerand het. Die meisies van die Klapperkop-kommando is nie beseer nie, maar erg getraumatiseer.

Arden du Plessis (13) het vertel hoe iemand hulle tydens ’n nagwag omstreeks 23:00 vanuit die bosse met klippe bestook het. “Toe storm hy met ’n doringtak in sy hande uit die bosse. Hy het ons omgestamp.”

Die aanvaller het die een offisier platgeduik en haar begin slaan. “Daar was baie bloed,” sê Arden. Die rower het kort daarna gevlug, en die kinders het voertuie daar naby voorgekeer.

“Ons is geskok en ontsteld,” sê Langner. “Ons én die monument het alles menslik moontlik gedoen om die kinders te beveilig, maar toe verdwaal hulle tydens die nagmars (terwyl hulle items op die terrein moes soek). Hulle was omtrent ’n kilometer weg van die naaste kontrolepunt, buite die veilige gebied.”

Langner sê dis normaalweg baie veilig by die monument se kampterrein en op die nagwagroetes daar naby. “Ons kinders se veiligheid is ons eerste prioriteit. 6 000 van ons voortrekkers het in April daar gekampeer en niks het gebeur nie. Hier was nog nooit voorvalle op of naby die kampeergebied nie, maar wel op die fietsroetes (verder weg).

“Ons het ook bykomende sekuriteit vir Vrydagaand se groep gereël. Offisiere en voertuie het tussen die verskillende kontrolepunte van die roetes gepatrolleer. Offisiere by die kinders was deurentyd in selfoonverbinding met mekaar. Toe hulle agterkom die een groep het verdwaal, het hulle dadelik na hulle begin soek. Voertuie is ook uitgestuur. Hulle was binne minute ná die aanval op die toneel.”

Die polisie het nie op ’n versoek om kommentaar gereageer nie.

Langer sê hulle sal beslis aanhou kampeer by die monument, maar koppe bymekaarsit met die monumentbestuur om voorvalle soos Vrydagaand s’n te voorkom. “Dis ’n wonderlike kultuurterrein.”

Cecilia Kruger, besturende direkteur van die monument, sê hulle bestee maandeliks R120 000 aan beveiliging. “Dis ons grootste uitgawe. Dis onmoontlik om die hele terrein van sowat 250 ha te beveilig. In die toekoms sal ons sorg dat ’n wag kinders altyd op die nagwagroetes vergesel.”

Kruger sê daar is snags wagte met honde by die piekniek- en kampeerterrein, ingangshek, monumentkantore en fort. “Hulle kan enige tyd ’n voertuig met gewapende wagte ontbied. Bedags patrolleer ’n wag op ’n perd ook ons 10 km-lange heining.”

Kruger sê hulle is voortdurend in gesprek met die Tswhane-munisipaliteit om die heining, wat deels aan ’n plakkerskamp grens, beter te beveilig. “Dit sal egter miljoene kos om dit oral met palissade te vervang.”

Die polisie het nie op ’n versoek om kommentaar gereageer nie.

Die monument het Saterdagoggend laat wéér onder ’n rooftog deurgeloop. Volgens Kruger het vier mense wat met pistole en rewolwers gewapen was, wagte by die ingangshek aangehou, die kassiere van ’n bedrag kontant beroof en haar gedwing om die kluis oop te sluit. Hulle het daarna in ’n Volkswagen Golf weggejaag en is nog op vrye voet.

Deur: Netwerk 24


Posted on Leave a comment

Passasiers val treindrywers met klippe aan by Koedoespoort-treinstasie in Pretoria

Passasiers val treindrywers met klippe aan by Koedoespoort-treinstasie in Pretoria

Ontstoke passasiers by die Koedoespoort-treinstasie in Pretoria het twee treindrywers van die United National Transport Union (Untu) aangeval en die bestuurskajuite met klippe bestook.

Dit volg nadat Metrorail-treine Woensdagoggend vertraag was.

Luidens ’n verklaring deur Untu, het albei “ervare” treindrywers gevrees vir hul lewe en die lewe van die twee studente wat saam met hulle in die kajuit was.

“Die passasiers het groot klippe voor die trein gepak en die trein met klippe gegooi. Die glas en klippe het op ons neergestort,” sê Kgaripane Mogashoa (42) in die verklaring.

Sy het die treinbeheerbeampte gebel en is gemagtig om met die roete voort te gaan.

Mogashoa was op pad van Pienaarspoort na Pretoria, maar moes noodgedwonge by ’n rooi sein stop.

Volgens Mogashoa was die student wat saam met haar was, histeries.

Die trein het veilig by die Pretoria-treinstasie aangekom.

Mogashoa en die student ontvang berading.

Sy was ook die treindrywer wat twee jaar gelede in Centurion deur woedende passasiers aan die brand gesteek is.

Luidens die verklaring was Francois Herselman (53) op pad na Pretoria-Noord toe sy bestuurskajuit ook by die Koedoespoort-stasie met klippe bestook is.

Die venster is stukkend, maar hy is nie beseer nie.

“Passasiers het gedreig om my en die student dood te maak. Dit was aaklig,” het Herselman in die verklaring gesê.

Hy was ook die treindrywer van die trein wat passasiers ’n paar maande gelede by die Koedoespoort-stasie probeer kaap het.

“Passasiers is uiters gewelddadig teenoor treinbemanning die afgelope paar maande,” sê Herselman, ’n oupa van vier kleinkinders.

Steve Harris, hoofsekretaris van Untu, eis dat Prasa drastiese veiligheidsmaatreëls op al die spoorlyne implementeer – dieselfde maatreëls wat op die “berugte sentrale lyn” in Kaapstad geïmplementeer is.

“Ongelukkig het Prasa en die polisiediens toegelaat dat die spoorlyne ’n oorlogsone word. Drastiese, duur maatreëls word landwyd benodig om wet en orde terug te bring vir ons passasiers wat van spoorweë gebruik maak,” sê Harris.

Deur: Netwerk 24