Ná byna twee jaar se gewag, kon ʼn Pretoria-gesin uiteindelik vandeesweek ʼn grafsteen vir Christo Engelbrecht by die Zandfontein-begraafplaas oprig.
Louis en Marisa Engelbrecht se rooikrulkopseuntjie, Christo, is op 5 November 2015 in die ouderdom van drie dood. Hy het onverwags siek geword en moes ʼn beenmurgtoets (lumbale punksie) kry. Die toets het komplikasies tot gevolg gehad en is glo nie deur ʼn pediater reg gediagnoseer nie.
Hy is gevolglik breindood verklaar en nadat hy twee keer na verskillende Pretoriase hospitale oorgeplaas is, is hy uiteindelik na die Garden City-hospitaal gehaas. Ten spyte van dokters daar se volgehoue pogings, is Christo dood met sy ouers en boetie, Coert, en sussie, Zanie, aan sy sy.
Christo is op 10 November 2015 vanuit die Gereformeerde Kerk Innesdal begrawe en in die Zandfontein-begraafplaas te ruste gelê.
Die Engelbrecht-egpaar en vele ander geliefdes van mense wat oor die afgelope twee jaar by Zandfontein begrawe is, kon sedertdien nie grafstene by nuwe grafte oprig nie weens probleme wat ervaar is toe die Tshwane-metro ná die plaaslike verkiesing in 2016 van ANC- na DA-leierskap omgeskakel het.
ʼn Woordvoerder van die Tshwane-metro het vroeër aan Maroela Media gesê die stad het baie skuld van die ANC-administrasie “geërf” en dat daar nie geld in die begroting was om die betonstroke, wat nodig is vir die basis van die grafstene, te lê nie. Onderhoud by talle begraafplase reg oor die stad het ook erg in die slag gebly.
Die metro het vir die nuwe finansiële jaar, wat van Julie 2017 tot Junie 2018 strek, nagenoeg R2,1 miljoen begroot het vir verfraaiingprojekte vir die stad wat ook begraafplase insluit. Zandfontein se betonstroke is uiteindelik in Augustus gelê. Toe dié stap gedoen is, kon die Engelbrechts die langverwagte steen vir Christo laat maak en dit is vandeesweek by sy graffie opgerig.
“Op 5 November is Christo’tjie twee jaar gelede dood. Toe ons sy steen oprig het dit gevoel of ons weer begrafnis gehou het. Die seer is rou maar ons is dankbaar dat sy naampie uiteindelik op is. ʼn Groot steen vir ʼn klein seuntjie wat reuse spore agtergelaat het,” het Marisa Donderdag aan Maroela Media gesê.
Die gesin besoek elke Sondag ná kerk Christo se graf en moes ʼn geruime tyd tussen die vervalle grafte blommetjies op hul seuntjie se graf sit “net om dit bietjie mooier te kon maak”. “Ons is bitterlik dankbaar dat daar nou ʼn steen is. Nou gaan Christo’tjie nie meer net ʼn naamlose hopie grond wees nie.”
Volgens Louis is deel van die rouproses ná die dood van ’n kind is om ’n steen vir die kind te kan oprig.