Posted on Leave a comment

Pta-verkeersbeampte vas oor omkoopgeld

geld 4

Argieffoto.

ʼn 45-jarige beampte van die Tshwane-metropolisie is in hegtenis geneem nadat hy glo omkoopgeld van ʼn motoris ontvang het.

Simon Zwane, woordvoerder van die Padverkeerbestuurskorporasie (RTMC), het gesê die beampte is Donderdag by die metropolisie se kantoor in Centurion in hegtenis geneem tydens ʼn voortgesette poging om van misdrywe in verkeersowerhede ontslae te raak.

“Die inhegtenisneming volg nadat ʼn klagte van ʼn motoris ontvang is wat beweer die beampte het R1 000 se omkoopgeld van hom geëis,” het Zwane gesê. “Die motoris is blykbaar voorgekeer nadat hy ʼn rooi verkeerslig verontagsaam het. Die beampte het glo die omkoopgeld geëis toe die motoris nie sy rybewys kon vertoon nie.”

Volgens Zwane is die motoris glo na ʼn kitsbank vergesel waar hy die geld moes trek en aan die beampte oorhandig het. Die motoris het later ʼn klag by die teenkorrupsie-eenheid aanhangig gemaak.

“Ná weke se deeglike ondersoek is die beampte in hegtenis geneem. Die beampte moet binnekort in die hof verskyn op aanklag van korrupsie en kan tot 15 jaar tronkstraf opgelê word as hy skuldig bevind word.”

Die teenkorrupsie-eenheid het al altesaam 22 mense, waaronder verkeersbeamptes, motoriste en kamma-dokters wat vals mediese sertifikate aan motoriste uitgereik het wat hulle bevoeg verklaar om vir openbare bestuurspermitte aansoek te doen, in hegtenis geneem in ʼn poging om van omkopery, bedrog en korrupsie ontslae te raak.

Inwoners word aangemoedig om enige verdagte optrede by die teenkorrupsie-eenheid by 0861 400 800 aan te meld.