Die Burgerlugvaartowerheid (BLO) het bevestig ʼn ondersoek is van stapel gestuur nadat klagtes ontvang is dat ʼn hommeltuig glo onregmatig gebruik is in die vervaardiging van Steve Hofmeyr se jongste musiekvideo, “Feeslied”.
Die musiekvideo is verlede Dinsdag in die aansluiting van Sefako Makgatho-rylaan (voorheen Zambesi-rylaan) en die N1-wisselaar verfilm. Hofmeyr en sy span het ʼn “flash mob” gereël om beeldmateriaal te skiet.
Verkeer is vir nagenoeg drie minute tot ʼn stilstand gebring terwyl hy vir niksvermoedende motoriste gesing het. Hy is daarna as deel van die video deur Tshwane-metropolisiebeamptes “in hegtenis geneem”, wat sosialemediagebruikers laat gons het.
Hofmeyr het kort ná die voorval aan Maroela Media gesê hoewel hy van die toneel af weggelei is, is hy nie in hegtenis geneem nie en alles was vooraf beplan. Hofmeyr het gesê hulle het vyf kameras gehad, talle mense het selfoonvideo’s geneem en daar was selfs ʼn hommeltuig.
Die video is dieselfde dag vervaardig en bekendgestel. Kommer is daarna uitgespreek dat die hommeltuig glo bepalings van die BLO oortree het en onder meer ʼn gevaar vir vliegtuie kon inhou wat van die Wonderboom-lughawe gebruik wou maak.
Kabelo Ledwaba, die BLO se kommunikasiebestuurder, het Vrydag by navraag aan Maroela Media bevestig die owerheid is bewus van beweringe dat ʼn hommeltuig glo onregmatig gebruik is.
“Suid-Afrika het in Julie 2015 een van die min lande geword om omvattende regulasies vir die gebruik van afstandbeheerde vliegtuie in te stel. Dit is gedoen om toe te laat dat dié vliegtuie wettig gebruik kan word en in ʼn lugruim bekendgestel word wat oorweldigend net vir bemande vliegtuie toeganklik was,” het Ledwaba gesê.
Hy het gesê ingevolge die burgerlugvaartwet word dit verbied dat ʼn hommeltuig nader as 50 m aan ʼn mens of groep mense, strukture, geboue of openbare paaie mag kom, tensy daar aan spesifieke vereistes voldoen word.
“ʼn Ondersoek is van stapel gestuur om te bepaal of enige reëls oortree is en of spesiale toestemming verkry is. Die ondersoek sal onder meer bepaal of die hommeltuig wel by die BLO geregistreer is en dat die operateur die nodige permitte en lisensies het.”
Hy het voorts gesê ʼn hommeltuig se vlieënier moet ʼn lisensie hê om ʼn afstandbeheerde vliegtuig te bedryf en het die verantwoordelikheid om geen mens of ander vliegtuie se veiligheid in gevaar te stel nie. Die hommeltuig mag ook nie gebruik word om enigiemand se privaatheid te skend nie.
“Eienaars of operateurs van hommeltuie moet soos enige ander lugruimgebruiker aan die BLO se regulasies voldoen. In dié geval mag versuiming daarvan tot ʼn boete van R50 000 of 10 jaar gevangenisstraf of albei lei.”
Ledwaba het gesê die uitslag van die ondersoek sal bepaal watter, indien enige, strafmaatreëls teen die eienaar of operateur van die hommeltuig opgelê sal word.
Die tydperk wat ondersoeke duur, verander van saak tot saak en word bepaal deur die ingewikkeldheid daarvan. “Ons doel is eerder om seker te maak dat elke ondersoek deeglik gedoen word as om dit af te rammel, asook dat mense verantwoording vir hul dade doen as hulle verkeerd opgetree het.”
Gerhard van Rooyen, eienaar van die produksiemaatskappy GVR wat die video verfilm het, het aan Maroela Media gesê sy maatskappy doen nie self hommeltuigverfilming nie en daarom het hy ʼn kontrakteur daarvoor gehuur.
“Volgens my wete is die kontrakteur wel gelisensieerd. Ek het die kontrakteur daaroor uitgevra voordat ons die video geskiet het omrede ons die regte roete wou volg met ʼn goed voorafbeplande en veilige produksie.”
Hy het gesê die video is in die algemeen goed ontvang en hulle kry net goeie terugvoer van aanhangers af. Die video was teen Vrydag 850 000 keer op Facebook gekyk en 30 000 keer gedeel. Volgens Van Rooyen is dit ʼn rekord vir so ʼn video – en nog ʼn rekord is dat dit in slegs een dag verfilm en vervaardig is.
Ledwaba het ʼn beroep op operateurs en eienaars van hommeltuie gedoen om hulle te vergewis van die nodige wetgewing.