Posted on Leave a comment

[Foto’s] Polisie slaan toe in Pta-middestad

Polisiebeamptes deursoek ‘n voertuig. Foto: Phillip Bruwer

Die polisie het Donderdag in volle mag die strate van die Pretoriase middestad ingevaar om die gebied ʼn veiliger plek te probeer maak.

Die grootskaalse operasie was ʼn gesamentlike poging deur beamptes van verskeie polisiestasies in die Pretoria-Sentraal-groepering. Die groepering bestaan uit die Brooklyn-, Garsfontein-, Lyttelton-, Pretoriase Moot-, Silverton-, Sunnyside- en Villieria-polisie.

Brig. Wiseman Mthembu, die groepering se operasionele bevelvoerder, het die beamptes vroegoggend by die Moot-polisiestasie gegroet, waarna die Vispol-koördineerder, kol. Terence Naidoo, die beamptes toegespreek het.

“Die doel van die operasie is om misdaad te bekamp en vorm deel van ʼn reeks voortdurende operasies wat gaan volg om veral trio-misdade [kapings, huisroof en sakeroof] te bekamp. Dit is om kriminele die boodskap te gee dat hulle nie hier welkom is nie,” het Mthembu tydens die openingsparade aan Maroela Media gesê.

Maroela Media het die polisie daarna na Sunnyside vergesel waar die beamptes deur die strate gestap en voetgangers, winkels en voertuie sporadies gestop en deursoek het.

Tydens die operasie het die polisie onder meer beslag gelê op talle nagemaakte CD’s en ʼn onwettige dobbelmasjien.

Mthembu het gesê die polisiegroepering sal gereeld in gebiede toeslaan en die verrassingselement gebruik om misdaad hok te slaan.