AfriSake het vandag namens sommige van hul lede ’n dringende interim interdik bekom om grondgrypers te verhoed om privaat grond in Hammanskraal in die noorde van Pretoria onregmatig te beset. Die keerdatum om die saak in die hof te finaliseer, is 8 Januarie 2018.
“Ons maan die publiek om veral in die komende feesseisoen ’n wakende oog oor hul eiendom te hou omdat die tendens van grondbetreding dikwels in hierdie tyd van die jaar toeneem,” sê Charles Castle, bestuurder van AfriSake se arbeidsregadvieseenheid. “Artikel 25 van die Grondwet waarborg aan elkeen die reg om nie arbitrêr van hul regmatige eiendom ontneem te word nie. Ons doen daarom weereens ’n beroep op die SAPD en veral die Pretoria Metropolitaanse Polisie om proaktief op te tree, hul pligte na te kom en die publiek se regte te beskerm. Ons moet elke sentimeter eiendom beskerm wat in besit van regmatige eienaars is. Ons kan nie toelaat dat Suid-Afrika in ’n tweede Zimbabwe ontaard nie.”
Grondeienaars word aangeraai om by georganiseerde instellings soos AfriSake aan te sluit sodat ons in samewerking met grondeienaars hul reg kan beskerm om in ongesteurde besit van hul eiendom te wees. Ondersteun AfriSake en SMS “Land” na 32277 om te help om vir die beskerming en behoud van eiendomsreg in Suid-Afrika te veg.