Posted on Leave a comment

10-jarige Seun van Pretoria al ’n week lank opsoek

10-jarige Seun van Pretoria al ’n week lank opsoek

Die 10-jarige seun Johannes Venter van Pretoria-Noord word reeds sedert Dinsdag 30 Oktober 2018 vermis.

Woordvoerder van die organisasie Pink Ladies, Dessie Rechner, sê dat Johannes Phillip Venter se ouma hom skool toe geneem het op die betrokke dag wat hy verdwyn het. Hy is ’n leerder van die Laerskool Voortrekker Eeufees in Presidentsraat, maar het geen van sy klasse daardie dag bygewoon nie.

Volgens Rechner het die seun se pa hom na bewering by die skool kom haal, waarna hulle saam in Shoprite in Pretoria-Noord gesien is. Venter het ’n groen skoolsak met ’n wapen daarop by hom gehad.

Die seun se ma is oorlede en het by sy ouma gewoon.

Volgens Rechner word die saak ook deur die polisie ondersoek.

Die organisasie Pink Ladies, ʼn organisasie wat dit daarop toespits om vermiste mense op te spoor.

Enigeen met inligting oor waar Venter hom bevind, kan die polisie van Pretoria-Noord by 082 319 9798 of Pink Ladies by 072-214-7439, 083-378-4882 of 086-001-0111 bel.

Oorspronklike berig is geplaas op Maroela Media


 

Posted on Leave a comment

Waarskuwing: Nuwe dwelm middel, soortgelyk aan dagga, laat beland jong tieners in ernstige toestand in hospitaal

Polisie het dringend ‘n onbekende stof vir forensiese toetsing gestuur, na 14 jong volwassenes en tieners wat in Pretoria woonagtig is na die hospitaal gehaas moes word nadat hulle ’n onbekende kruiemengsel wat bekend staan as puff or blazing gebruik het.

Dit kom na die voorval waar drie tieners van Pretoria-Wes, Maandagmiddag na die hospitaal gehaas moet word, geklee nog in hul skooldrag, nadat hulle die onbekende stof gerook het.

Xander Loubser, woordvoerder van BestCare, het die voorval bevestig en gesê dat die drie tieners in ‘n ernstige toestand was en is behandel vir simptome soos aanvalle, psigose, naarheid, braking en hallusinasies.

Al drie tieners is gestabiliseer en na die Eugene Marais-hospitaal vervoer vir verdere mediese sorg.

In ‘n video wat wat geneem is, kan gesien word hoe een van die leerlinge, met ’n drup in sy arm, hewig veg en baklei met een van die paramedici. Daar kan ook op die greep gehoor word dat die seun ontken dat hy iets gerook het. Op die toneel waar die seun gevind is, het die noodhulp beamptes ’n verdagte pakkie opgetel met ’n onbekende stof wat amper soos dagga lyk.

 

Kapt. Augustina Selepe, woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Polisiediens, het gesê die onbekende stof is verpak in ‘n swart sakkie. Die stof is soortgelyk aan dagga, het Selepe gesê.

“SAPD het dringend die stof na ‘n SAPD-forensiese laboratorium gestuur vir toetsing. Die polisie het intussen ‘n ondersoek geloods wagtend op die forensiese uitslae.”

Die dwelm wat amper dieselfde voorkoms as dagge vertoon, word in aantreklike pakkies verkoop wat soortgelyk is aan kondoom verpakkings. Dit staan bekend as Huff, Blazing, Fun Bubblegum, Tutti Frutti en Crazy Coconut.

Die dwelm word ook in ‘n zol gerol, soos die dwelm middel dagga, en dan gerook.

Die polisie het ouers gevra om hul kinders te waarsku oor die gevare van die gebruik van onbekende stowwe. Een van die grootste struikelblok is, is dat die dwelm na bewering vrylik beskik baar is en  kan gekoop word in die tabak winkels en by drankwinkels sommer so oor die toonbank.

Die polisie het  intussen ook ouers aangemoedig om verdagte pakkies te verwyder wat hul kinders in hul besit het en die saak aan die polisie rapporteer.

Die volgende whatsup stemboodskap is gestuur deur een van die paramidici wat op van die tonele was.

Deur: Elizaan de Koker


Posted on Leave a comment

Booswigte steel kerkklok van NG kerk Wespoort in Danville

Booswigte steel kerkklok van NG kerk Wespoort in Danville

’n NG kerk in die weste van Pretoria se kerkklok is soek nadat booswigte verlede week baie moeite gedoen en swaar gedra het om dit te steel.

Dié klok van die NG kerk Wespoort in Danville weeg maklik meer as 100 kg.

“Ek hoop die mense wat die klok gesteel het, word gevang, sodat hulle dit weer kan terugsit. Ek sal graag wil sien hoe hulle dit gaan regkry,” sê Koos du Raan, die koster.

Du Raan sê daar is Maandag die eerste keer opgemerk die klok hang nie meer in sy boog aan die bo-punt van die kerktoring nie.

Die klok word net op spesiale geleenthede gelui, soos op begrafnisse en middernagdienste.

’n Ouderling het Maandag die klok se ketting in die binneplaas naby die kerkgebou sien lê.

“Groot was ons verbasing toe ons omdraf en sien die klok is weg,” sê Du Raan.

Die diewe het vermoedelik oor die kerk se agterste muur geklouter nadat hulle die lemmetjiesdraad in die hoek platgedruk het.

Du Raan wys na die leer wat teen die agterkant van die kerkgebou is, wat die skelms gebruik het om tot by die klok te klim.

“Hoe hulle die klok tot op die grond en oor die muur gekry het, sal ek graag wil weet, dit kon nie ’n maklike taak gewees het nie,” sê Du Raan.

Hy vermoed die klok, wat gegiet is uit ’n mengsel van koper en geelkoper, is gesteel om as skrootmetaal gesmous te word.

“Die diewe mag dalk lekker geld maak uit die klok, maar vir ons gemeente is dit ’n hartseersaak. Die klok is deel van ons kerkgebou se geskiedenis,” sê Du Raan.

Besonderhede oor die klok se geskiedenis is skraps, maar dit was volgens Du Raan daar toe die gemeente op 22 Januarie 1949 gestig en die ou kerkie ingewy is.

Geld vir ’n nuwe klok is daar nie.

Die beloning van R3 000 wat uitgeloof is om die klok op te spoor, is deur die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum bymekaargemaak.

Die saak is by die polisie aangemeld.


Posted on Leave a comment

Oom Paul spog nou met ‘n splinternuwe baadjie by sy graf

Oom Paul spog nou met 'n splinternuwe baadjie by sy graf

Nadat sy graf in Julie vanjaar gevandaliseer is, het Jacques Müller, ‘n beeldhouer van Centurion, aangebied om nie net die beskadigde borsbeeld op die graf van oudpres. Paul Kruger te restoureer nie, maar ‘n hele nuwe beeld vanuit graniet en marmer te kap.

Die nuwe Kruger-monument is gister op oom Paul se 193ste verjaarsdag onthul.


Posted on Leave a comment

Onwettige grondbesetters dreig media en AfriForum met petrolbomme

Onwettige grondbesetters dreig media en AfriForum met petrolbomme

’n Spul onwettige grond gryppers het verteenwoordigers van AfriForum sowel ’n mediaspan Maandagoggend met petrolbomme gedreig op ’n grondeienaar se plaas net buite Pretoria. Die grond word tans onwettig beset en die plakkers het hul teengesit vir samesprekings en onderhoude met met die media.

Die stuk grond ter sprake behoort aan ene dr. Motodi Maserumule en is geleë tussen Soshanguve en Onderstepoort. Na bewering het ongeveer 150 mense verlede Maandag onwettige sinkhuise begin oprig op die grond. Volgens Cameron het die plakkers laas week baie vinnig ’n sinkhuisie met die woord “Office” op opgerig en is tans besig om erwe teen R500 stuk aan lede van die publiek te verkoop.

Cameron het ook te vertel dat Maserumule aanvanklik gesukkel het om ’n saak by die polisie te open. Met behulp van AfriForum kon hul daarin slaag om ’n saak van betreding by die polisie aanhangig maak verlede Woensdag.

“Teen verlede week Vrydag was hier seker so 30 strukture opgerig, maar oor die naweek moes hulle baie besig gewees het, want hier is nou al seker ’n honderd sinkstrukture opgerig en hier is baie meer mense,” het Cameron aan die media gesê.

Die burgerregte organisasie Afriforum het ’n dringende hofbevel Vrydag bekom in die hooggeregshof in Pretoria om die onwettige plakkers te verwyder.

“Toe ons vanoggend daar kom om ’n media-onderhoud te doen, was dit aanvanklik rustig, maar toe word dit baie vinnig lelik. ’n Groep mense het op ons voertuie afgestorm; van hulle het met pangas en selfs vuurwapens gestaan en gedreig. Daar is toe aan ons gesê dat indien enige iemand hulle gaan probeer keer, hulle met petrolbomme gegooi gaan word. Toe hulle klippe begin optel om ons voertuie daarmee te gooi, het ons gery.”

Volgens Cameron moet die hofbevel deur die balju aan die grondbesetters en die SAPD beteken word, waarna die polisie dan verplig sal wees om die balju by te staan om die onwettige plakkers van die grond te verwyder.

“Volgens ons kennis gaan die balju vanmiddag na die plaas toe om die hofbevel aan hulle te beteken. Die situasie is egter baie gespanne en ons is nie seker hoe die balju se aankoms die situasie vererger nie,” het Cameron gesê.

Die betrokke polisiewoordvoerder het glo aan die media groep Maroela Media gesê hy is nie bewus van hierdie grondgryp nie.

Die oorspronklike berig kan gelees word op Maroela Media


Posted on Leave a comment

Studente van die Tshwane Universiteit van Tegnologie bring Pretoria tot stilstand tydens protestoptogte

Studente van die Tshwane Universiteit van Tegnologie bring Pretoria tot stilstand tydens protestoptogte

Studente van die Tshwane Universiteit van Tegnologie (TUT) het weereens die strate ingevaar en verkeer in die sentrale gedeeltes van Pretoria ontwrig.

Klasse is ontwrig en studente eis die kop van die polisieman wat Andries Monareng glo doodgeskiet het.

Die studente het gedreig dat hul die hele Pretoria tot stilstand sal bring. Winkels is gesluit en berigte van stropery by wegneem eetplekke is aangemeld.

Die polisie ontken intussen steeds dat hulle verantwoordelik was vir die dood van Monareng.

Deur: Die Vryburger


Posted on Leave a comment

Barbaarse studente in Pretoria stig brand voor Bheki Cele, minister van polisie, se kantore

Barbaarse studente in Pretoria stig brand voor Bheki Cele, minister van polisie, se kantore

‘n Groep studente van die voormalige Technicon, tans bekend as die Tshwane Universiteit van Tegnologie, het die polisie besig gehou deur ‘n brand te stig voor Bheki Cele, minister van polisie, se kantore in Pretoria.

Dit volg na die dood van een opstoker student op die Soshanguve kampus tydens geweld wat daar uitgebreek het.

Waarnemers vra die vraag wat sal die polisie doen as boere strate afsper en breek en brand oor plaasmoorde?

Deur: Die Vryburger


Posted on Leave a comment

Bekende skrywer, Tom Gouws op kleinhoewe buite Pretoria vermoor

Bekende skrywer, Tom Gouws op kleinhoewe buite Pretoria vermoor

Die bekende skrywer en letterkundige Tom Gouws is tydens ’n rooftog op sy kleinhoewe buite Pretoria vermoor deur aanvallers.

Die nuus is bevestig deur sy suster Judy Leclerc.

Volgens inligting ontvang van Judy het Tom en sy vrou onlangs ’n kleinhoewe buite Lynwood buite Pretoria gekoop waar hul ’n huis gebou het.

Tom is na bewering deur rowers by die huis ingewag waar hy koelbloedig vermoor is. Sy vrou is ook tydens die aanval beseer, maar haar toestand is nie bekend gemaak nie.

Daniël Gouws, Tom se seun het ook die voorval bevestig, maar was te hartseer om meer inligting te gee.

Medelye het vroeg Donderdagoggend op Facebook ingestroom nadat die nuus soos ’n veldbrand versprei het.

Fred en Mercia Eloff sê: “Tom ou maat, nou is jy waar Vader is. Vertroosting toegebid vir die familie.”

“Sjoe Tom … nou is jy elke dag saam met my …. WOLK van Getuie en moedig my aan. My meegevoel aan familie wat hier deur werk”, lui ’n inskrywing van Christa Stander.

Tom was veral bekend as digter, maar het ook verskeie dramas en radiodramas geskryf.

Hy was die vierde wenner van die jaarlikse Nagtegaalprys vir nuut geskrewe verhoogtekste vir die drama Nag van die langmesse.


Posted on Leave a comment

Gewilde Hartland program van lug af gehaal by Pretoria FM

Gewilde program op Pretoria FM sonder waarskuwing van lug

Luisteraars van Pretoria FM, voorheen bekend as Radio Pretoria, het penregop gesit toe hulle oor die lug verneem dat een van die gewildste programme summier van die lug verwyder is.

Skynbaar is ander ewe gewilde programme se tydsduur gehalveer, want “daar moet minder gepraat word” op die radio.

Ander programme soos Fokus, waar veral Solidariteit ‘n groot rol speel en waar mense soos mnre. Flip Buys, Jaco Kleynhans en ander uit die Solidariteit dampkring, onbeperkte spreektyd het, word skynbaar nie geraak nie, en volgens die direksie voorsitter, Willie Spies, in ‘n antwoord op mnr. Bennie van Zyl se Facebook inskrywing, gaan Fokus nou Hartland se plek inneem.

Die “minder praat” is dus skynbaar net van toepassing op sekere sprekers.

Die gewilde program Hartland is skielik deur die nuwe uitvoerende bestuurder, mnr. Hennie Koortz, nek-om gedraai, en Marianne Breytenbach, uiters bekwame en geliefde aanbieder van die indiepte nuusagtergrond program, het die aankondiging daaroor gemaak tydens ‘n laaste emosionele uitsending daarvan.

Haar laaste gaste was mnre. Louis Meintjes en Bennie van Zyl van TLU SA, wat in geen onduidelike taal te kenne gegee het dat hulle nie met die verandering geneë is nie en dit op die hoogste vlak sal beveg. Hulle standpunt is dat TLU SA se standpunt nou ook deur Pretoria FM gemarginaliseer gaan word, terwyl dié organisasie een van die eerste, langste en sterkste ondersteuners van Pretoria FM was.

Ook op sosiale media het daar ‘n hewige reaksie op die besluit gevolg, en die meeste deelnemers beskou dit as ‘n verdere afwyking van dit waarvoor Radio Pretoria aanvanklik gestaan het.

Na verneem word het is die radio se kortboodskap-lyn (sms) en e-pos adres ook oorstroom met besware van ontstoke luisteraars, en talle het gedreig om hulle finansiële bydrae te kanselleer.

Deur: Die Vryburger


Posted on Leave a comment

Onwettige grondbesetting op R21 veroorsaak chaos

Onwettige grondbesetting op R21 veroorsaak chaos

Onwettige grondbesetters het weereens chaos veroorsaak. Hierdie keer op die R21 naby Olifantsfontein.

Die hoofweg is deur protesteerders geblokkeer vir verkeer, ‘n vragmotor is aan die brand gesteek en motoriste is met klippe bestook. ‘n Onbekende persoon is dood tydens die optrede maar die oorsaak van sy dood kon nie vasgestel word nie.

Verkeer vanaf die lughawe na Pretoria is ontwrig deur rommel wat op die pad gestort is en die pad is laat Sondagmiddag vir verkeer oopgestel nadat polisie die rommel verwyder het.

Deur: Die Vryburger